Paul Boekkooi

Evolution of 4-stryk- kwartet / Pieter Jacobs, klavier

Musaion, UP

Min musikale samestellings is so uniek en tegelyk veeleisend soos ’n strykkwartet. Die vier lede moet artistiek oor die weg kom, mekaar eintlik positief kan voed en ’n gewillige kommunikatiewe openheid tussen hulle laat ontstaan.

Die feit dat die Evolution of 4-strykkwartet Sondag tydelik met ’n “ingevoerde” altviolis, Jeanne-Louise Moolman van Bloemfontein se Odeion-strykkwartet, kon saamwerk, is voordelig vir hul eie groeiproses. Dié Pretoriase kwartet het met hul slotkonsert van 2013 hoog gemik en uiters selde getuimel.

Schubert se Strykkwartet no. 14 in d, D.810 – “Die dood en die meisie” – is ’n geweldig uitdagende werk. In min van sy voorafgaande kwartette word daar soveel betreffende strykerskultuur vereis.

Daar bestaan oor één aspek geen twyfel nie: Dié werk vereis dat daar met intensiteit na Schubert se innerlike geesteswêreld, wat in 1824 merendeels uit traumas en krisisse bestaan het, deurgedring moet word.

Hier het elke tema ’n diepgaande betekenis binne dié harmoniese en ritmiese kwartetspel verkry waarin veral oorgange dikwels fynsinnig en met musikaal deurleefde skaalverdelings bereik is. Die getemperde skoonheid en die passie in die musiek word nooit met nugterheid benader nie: ’n voordeel.

Twee punte van kritiek: Soms, deur hoog opgevoerde intensiteit, het ’n logiese kontinuïteit in die spel in die gedrang gekom, terwyl intonasie – veral by digte harmonieë – by tye verdag was. Die kwartet sal dit gou ontdek wanneer hulle na die video-opname kyk.

Die pianis Pieter Jacobs het vir Dvorák se Klavierkwintet in A, op. 81, by die kwartet aangesluit. Dvorák se tweede opus vir dié kombinasie is ’n soort platoniese ideaal waarin elke instrument sy bestaansrede het, waarin soms ingewikkelde ritmiese patrone voorkom (4 teen 3 in die Andante) wat ook vir die viool dankbare kanse bied en waarin, oorkoepelend beskou, verder die donkerder strykerstimbres opval.

Vir die uitvoerders staan verskeie moontlikhede oop: Hulle kan die werk vinnig, fel en dramaties à la Brahms speel, of juis stadiger, liries en rubato-ryk in die styl van Schubert. Dan is daar ook die Boheemse alternatief: traag, gelate en introvert.

Jacobs en die viertal het elemente binne dié tradisies baie knap saamgevoeg. Hy het in sy spel eerder op die meer verfynde, vlot en ranke elemente gefokus as die duistere, melancholiese ondertone. Daar was nogtans passasies wat daarop gedui het dat daar ’n tekort aan robuuste uitdrukkingskrag was.

Tog het die vyf musici by tye sterk daarin geslaag dat hul ingehoue sensitiwiteit ’n voelbare spanning kon ontwikkel. Dit was reeds heel aan die begin duidelik waar Jacobs die Barcarolle-opset (waarby die tjello aansluit) in die inleiding van die eerste deel skitterend hanteer het.

 

http://www.beeld.com/vermaak/2013-06-11-jong-kwartet-pak-bach-se-ligter-werk-met-oorgawe

Jong kwartet pak Bach se ligter werk met oorgawe

Dinsdag 11 Junie 2013, Paul Boekkooi

Koffiekonsert: Evolution of 4: Musaion, Universiteit van Pretoria.

Koffie kan verslawend wees. Is daar enigiemand wat dit dalk nié weet nie? J.S. Bach, die komponis wat altyd ’n glimlag van sukses na buite sou vertoon het, se Koffiekantatemet die titel “Schweigt stille, plaudert nicht” (wat as ’n bevel geïnterpreteer kan word), val vanselfsprekend onder sy sekulêre werke. Dié titel wil iets aan ’n jong vrou oordra: “Bly stil, hou op klets.” Dit vertel van ’n pa, Schlendrian, wat sy dogter, Lieschen, se koffieverslawing so weersinwekkend vind dat hy haar “ ’n bose kind” noem. Picander, die librettoskrywer van dié kantate, voer egter iets in die mou wat in daardie tye as gewaagd beskou kon word. Lieschen sê aan haar pa sy sal ophou koffie drink as sy kan trou met die man wat sy liefhet. In ’n verrassende byvoeging tot Picander se gedrukte libretto vind ons dat haar huwelikskontrak ’n klousule sal bevat wat haar man verplig dat sy haar verslawing mag voortsit.

Die Evolution of 4-strykkwartet – versterk deur die fluitspeler Dong Ho Kwak en drie vokale soliste: die bariton Christopher Vale (Schlendrian), die sopraan Melissa Gerber (Lieschen), en die tenoor Tinus Spies (verteller) – het dié kantate met onoordrewe vokaal-dramatiese infleksies tot lewe gebring. Gerber het ’n onweerlegbaar sjarmante Lieschen daargestel en was deurgaans vokaal en op die gebied van interpretasie op haar beste. ’n Mens kon op dieselfde vlak ook haar kollegas se prestasies waardeer. Hierdie is dalk nie ’n hoogs inspirerende werk nie, maar dié soort kantates was Bach se geldmakers. Die strykkwartet en die fluitspeler het met verfynde Barok-spel vorendag gekom.

Ná pouse is die laaste twee dele van Beethoven se Strykkwartet in B mol, op. 18, no. 6 uitgevoer. Aan die verwikkelde ritmiese eise van die Scherzo is aksentryk voldoen – in besonder aan die afwisseling tussen staccato en legato – terwyl Johanna Roos in die Trio se solo knap die gees van Haydn opgeroep het. In die kontrasryke slotdeel, met die programmatiese titel La Malinconia, is veral die chromatiese opbouing van die Adagio subtiel bemeester, terwyl die elwedans-karakter van die Allegretto quasi Allegro in al sy vermommings en openbarings in ’n gepaste, maar ook beheerste Prestissimo-wildheid geëindig het.

Op Jaco van Staden se gepaste verwerking van die Arabiese dans uit Tsjaikowski se Neutekraker-suite het Alice le Roux die stuk laat lewe met haar eksoties getinte danswerk. Van Staden was ook die verwerker van Ronnes se Coffee Tango.

Evolution of 4 is op pad om te ontwikkel in ’n strykkwartet waarin hoogstaande musikaal-tegniese vermoëns verskuil lê.

 

<http://www.beeld.com/Vermaak/Nuus/Die-jong-kwartet-se-spel-heel-volwasse-20130414

Dié jong kwartet se spel heel volwasse

2013-04-15 00:13

Paul Boekkooi

Evolution of 4
Linder, Parktown

Daar is veral één onomwonde maak-of-breek-faktor wat by strykkwartetspel geld: die verhoudingsdinamiek tussen die vier musici op verskeie vlakke.
Dit sluit in tegniese bedrewenheid, gefokusde musikale uitdrukkingspotensiaal en minstens ook aanpasbare persoonlikhede.
Wat laasgenoemde betref, kan ’n misplaaste hiërargie katastrofies wees.
By Evolution of 4, wat in November 2011 gestig is, blyk dit uit ’n hoogs uitdagende program dat dié hoeksteen stewig gevestig is.
Vroeg in hul loopbaan storm kwartette nie sonder huiwering daarop af om Tsjaikofski se Kwartet in D, op. 11; Arnold van Wyk se “Vyf elegieë”; of Ravel se Strykkwartet in F uit te voer nie.

Johanna Roos (eerste viool), Ané van Staden (tweede viool), Valery Andreev (altviool) en Jessica Bailey (tjello) het in die Tsjaikofski se openingsdeel, Moderato e semplice, nog nie mekaar op die spreekwoordelike vaste voet gevind nie.
Die klankverhoudinge was soms minder geïntegreer en ewewigtig vanweë ’n oorkoepelende hoogspanning in die spel.

Reeds met die daaropvolgende Andante cantabile was dit anders gesteld. Die melancholie is ingehou – iets wat die diepliggende, esteties eenvoudige aard daarvan beklemtoon en afgesaagdheid teengewerk het.
Die scherzo-agtige derde deel en Finale met sy terugkerende, haas kinderlike temafragment, is met oorgawe vertolk.

Van Wyk se “Elegieë” is skaars leunstoelmusiek.
Daarvoor was die geografiese en ander omstandighede – die bombardering van Londen tydens die komponis se studieverblyf daar – nie bevorderlik nie.
Dat dié stukke die aanhoor werd is en in die geval van die laaste twee selfs uitnemende en begeesterde vakmanskap verteenwoordig, het uit Evolution of 4 se skerp omlynde ontleding en hul hoogs gedissiplineerde, afgewerkte spel gespreek.

Die wasdom wat dié viertal reeds bereik het, spreek uit die ekspressiwiteit waarmee hulle dié repertorium, wat die donkerder stemminge van die menslike gemoed binnedring, reeds beheers.
Dit was in die strykkwartet van Ravel – gekenmerk deur baie aandag wat aan sferiese en melodiese wendinge, asook ’n helder spelreliëf bestee is – dat die onweerlegbare hoogtepunt van dié uitvoering bereik is.

In Ravel se unieke klanklandskappe, grotendeels deur Baskiese invloede gestimuleer, is kleure net so belangrik as motiewe.
Evolution of 4 het aan albei besondere aandag bestee.
Hul spel toon ’n warm al- fresco-styl: intensief, gevoelig en deursigtig. Die soms tipiese Franse stempel het duidelik uitgestaan.
Daarbínne is Ravel se klassieke struktuur deurgaans behou, sonder dat daar aan hartstog ingeboet is.